Liewe ouers en maats,
Baie welkom terug na ‘n lekker lang vakansie!
Ek hoop almal is uitgerus en gereed vir die nuwe jaar en die uitdagings wat 2023 vir ons inhou.
Aan die begin van ‘n nuwe jaar dink mens altyd wat is die een ding wat jy in hierdie jaar saam met jou wil neem.
Die een gedagte of voorneme wat ‘n jaar vir jou lekkerder of beter sal maak, iets wat jou sal motiveer wanneer dinge begin dol gaan.
Na ‘n vakansie met vyf nefies in een huis, is die woorde ‘Dit is nie ‘n kompetisie nie!’ gereeld gesê.
Seuns maak ‘n kompetisie van alles, van wie die vinnigste kan hardloop tot wie die verste kan piepie.
Terug by die huis kyk ek en my oudste ‘n episode van die uiters gewilde Bluey.
Ek is natuurlik nie seker hoe baie van julle vertroud is daarmee nie, maar ek is nie juis gaande oor die program nie.
Ek glo dit skep soms onrealisitiese verwagtinge by kinders van hoeveel energie ‘n ouer veronderstel is om te belê in veral ‘n aktwiteit soos speeltyd.
Maar in dié episode vertel Bluey se ma vir haar die storie van hoe sy begin loop het.
En ja, of Bluey ‘n dogtertjie of ‘n seuntjie is het menige argumente (dit was
darem altyd vriendelik) in ons huis ontketen.
Dankie tog vir die internet!
Nietemin, Bluey se ma vertel vir haar hoe gespanne sy was vir Bluey om haar mylpale op dieselfde tyd as die ander babahondjies te bereik.
Tog was Bluey op haar eie tydskedule en elke keer wat die ma haar dokter toe geneem het, is sy voortdurend gerusgestel.
Die ander hondjies in die groep het baie vroeër begin rol, sit en kruip.
Arme Bluey se ma het net al hoe meer gestres.
Op ‘n dag kom kuier ‘n ander mamma by haar.
Hulle sit saam op die stoep en die mamma wys vir Bluey se ma ‘n foto van al haar
ander hondekinders.
Bluey se ma is baie verbaas, maar besef ook dit verduidelik hoekom die ander
mamma se jongste hondjie al haar mylpale voor die ander bereik het.
Die ma sê toe vier belangrike woorde: “You are doing great”
Dit was al wat Bluey se ma nodig gehad het om te hoor.
Dit is wat ek in die nuwe jaar saam met my wil neem.
Dit is nie ‘n kompetisie nie.
Ons almal doen die beste wat ons kan.
Elke kind is uniek, elke kind beweeg teen sy eie pas en ons, as ouers, moet onsself ‘n bietjie meer lof toe-eien vir wat ons in hierdie mensies se lewens doen.
Ons moet ook somtyds net stilstaan, om ons kyk en sien wie om ons moet aan daardie vier belangrike woorde herinner word.
Kom ons vat hande in die jaar en gee ons beste vir ons kinders.
Wanneer die lewe om ons al hoe besiger begin gaan, raak rustig en onthou: You are doing great.
Voorspoed en seën vir alles wat 2023 inhou!
