Jou kleuter en kuns


Ek werk die afgelope week aan voorbereiding vir aanstaande kwartaal en wanneer ons ‘n tema beplan is daar sekere aktiwiteite wat in elke tema gedoen moet word.

Een aktiwiteit vir die groot spiere, een vir die klein spiere, een om lewensvaardighede te ontwikkel, een vir wiskundige konsepte, maar defnitief meer as een vir kuns. 

Ja, ‘n kleuter moet heelwat kunsaktiwiteite in ‘n tema doen. 

Hoekom speel kuns so groot rol in ‘n kleuter se ontwikkeling?

Volgens prof. Melodie de Jager van die Mind Moves-Instituut kan ons kleuters se ontwikkeling vergelyk met die bou van ‘n huis. 

Eerstens word die fondasie gelê.  Dit is hul fisiese ontwikkeling. 

Volgende word die mure gebou – hul emosionele ontwikkeling. 

Dan volg die deure en vensters – hul sosiale ontwikkeling.

En laastens sit ons die dak op – kognitiewe ontwikkeling. 

Die dag toe ek die eerste keer van die huiskonsep gehoor het, het my wêreld verander. 

Dit help nie ons leer kleuters hoe om te tel maar hulle kan nie reg op ‘n stoel sit nie.

  Dit help nie hulle kan woordjies identifiseer maar sukkel met ‘n lae selfbeeld nie. 

Hoekom wil ons druk op hulle plaas om ‘n potlood reg vas te hou as hulle nie met hul portuurgroep oor die weg kom nie?

Dit is hoekom kuns so belangrik is.  Dit ontwikkel ‘n kind op alle vlakke, op die regte manier.

Tydens kunsaktiwiteite kry  kinders die geleentheid om hul emosies uit te druk en dit help om gevoelens te beheer. 

Hulle het vryheid van keuse en hul kommunikasievaardighede verbeter.

Hulle eksperimenteer met ‘n verskeidenheid mediums en teksture en op dié manier verbreër hul kennis van hoe sekere goed werk en leer hoe om probleme op te los.

Hulle span alle sintuie in om ‘n kunsprojek te voltooi en voel goed oor hulself wanneer daai werkie na die tyd in oënskou geneem word. 

Kuns ontwikkel wiskundige konsepte, persepsionele vaardighede en natuurlik verbeter hand-oogkoördinasie en fyn motoriese vaardighede.

Ek kan nog boeke skryf oor die belangrikheid van kuns in ‘n kleuter se ontwikkeling, maar die heel belangrikste ding wat ons as ouers moet onthou: die eindproduk is nie belangrik nie. Dit is die proses wat van onskatbare waarde is.

Iets wat ek eers heelwat later geleer het – moet nooit vir die kind vra ‘Wat is dit?’ as hy of sy ‘n tekening of kunsprojek vir jou wys nie. 

‘Vertel my daarvan,’ is die beste manier om seker te maak jy knou nie moontlik sy selfbeeld nie. 

Selfs al is jy 100 persent oortuig dit is ‘n krokodil, vra eerder dat hulle jou daarvan moet vertel. 

Dalk is dit nie ‘n krokodil nie, dalk is dit ‘n verkleurmannetjie of ‘n dinosourus. 

Wanneer jy sê dit is ‘n baie mooi krokodil en dit is nie wat geteken is nie, twyfel die kind onmiddelik in sy or haar vermoëns. 

Kan mamma dan nie sien dit is ‘n pers koggelmander nie?

Doen jouself die guns en verf iets hierdie komende week saam met jou kleuter.  Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie!