Steek jou hand op as die hierdie bekend klink: Jy stop voor die skool om jou kleuter op te tel.
Vir ‘n rukkie staan jy eers en kyk hoe hy saam met sy maats op die speelgrond baljaar.
Hy gaan rustig saam met jou kar toe, maar die oomblik wanneer jy die kar aanskakel begin jou kleuter huil.
Soms word daars selfs gewag tot julle by die huis kom voor die geneul begin.
‘Tel my op!’
‘Kom speel met my!’
Goed word in die huis rondgegooi.
‘n Allemintige ineenstorting duik op oor die kleinste dingetjie.
Die huilery bly aanhoudend.
Jy is op jou einde want die sonskynkind wat jy by die skool opgetel het, het plek gemaak vir ‘n klein donderwolkie.
En as jy enigsins soos ek is, begin jy dadelik wonder wat jý verkeerd gedoen het en hoekom jou kind net sy ‘moeilike kant’ vir jóú wys.
Gelukkig is daar kenners wat ons kan gerusstel.
Wanneer ‘n kind aanhoudend huil, aan jou klere trek, dinge in die huis rondgooi, al om jou neul vir iets of net ‘n totale emosionele ineenstorting ondergaan oor iets wat jy beskou as ‘n nietigheid, kan jy gerus wees.
Jou kleuter kommunikeer met jou en hy sê net een ding: ‘Ek het jou nodig.’
Die kleuter se emosionele brein is nog besig om te ontwikkel, sy woordeskat groei nog en hy het nog nie die vermoë om sy emosies te beheer nie.
Die deel in die brein wat jou help om emosies te reguleer en te beheer is eers op 25-jarige ouderdom ten volle ontwikkel. (Sterkte!)
Kan ons dan ons kleuters kwalik neem wanneer hulle deur hul emosies oorweldig word?
Of kwaai raak wanneer hulle nie oor die vermoë beskik om vir ons te kan sê wat hulle pla nie?
Inderdaad nie, maar ons kan hulle help.
Gaan sit op die grond langs jou kleuter. Noem die emosie wat hy voel.
Vra of jy vir hom ‘n drukkie kan gee. Wys empatie. Wees die kalmte in sy storm.
En gaan speel maar so bietjie buite of lees ‘n storieboek saam.
Hy gaan immers net vir nog ‘n rukkie jou kleintjie wees.
Tyd vlieg en voor ons ons oë uitvee is ons kleuters tieners wat dan – in plaas van nie met ons kan kommunikeer nie – net eenvoudig nie wil nie.
