Nuusbrief: September 2023


Daar is min dinge so lekker soos om ‘n klein babalyfie teen jou vas te druk. 

Om te sien hoe die ogies swaar raak, te voel hoe sy koppie teen jou bors druk, sien hoe die mondjie nog vir oulaas suig en dan is jou babatjie in droomland.

Maar dan word jou babatjie groot. 

En dit wat maklik was, word nou moeiliker en die moeilike dele word makliker. 

En voor jy jou oë uitvee is jou baba ‘n peutertjie wat die wêreld (en jou!) wil oorwin.

Die tyd breek aan vir die skuif van die babaklas na die peuterklas. 

Meestal vul die skuif die ouers met meer vrees as vir die peuter.  En met goeie rede! 

Jou kind gaan ‘n nuwe fase in op dieselfde tyd as wat hy moet oorskuif. 

Dit is nie die skuif na die peuterklas wat jou kind verander het nie.  Dit is die nuwe ontwikkelingsfase wat hy ongeveer op dieselfde tyd betree.

Gun my die geleentheid om jou nou gerus te stel. 

Dit is nie die skuif na die peuterklas wat jou kind verander het nie. 

Dit is die nuwe ontwikkelingsfase wat hy ongeveer op dieselfde tyd betree.

By EduCo skuif ons nie ‘n kind na die peuterklas toe wanneer hy die regte ouderdom bereik het nie. 

Nee, ons wag vir die kind om die tekens te toon dat hy nou gereed is vir ‘n ander soort stimulasie, meer onafhanklikheid en baie meer beweging.

Dit is dus belangrik dat jy as ouer met die babajuffrou gesels en die proses – want dit is ‘n proses – saam aanpak. 

Wat kan jy as ouer doen om die oorgang makliker te laat verloop?

Gesels met jou kind oor die nuwe klas met die ouer maatjies waarheen hy skuif. 

Vertel hom van die juffrou, skep ‘n opgewondenheid en afwagting binne in hom oor al die wonderlike dinge wat op hom wag. 

Lees stories saam oor kinders wat kleuterskool toe gaan. 

Vertel hom hoe trots jy op hom is dat hy nou ‘n ‘groot maatjie’ gaan wees wat baie nuwe maats gaan maak.

Daar behoort geen ander groot veranderinge tuis te wees wanneer jou kind oorskuif nie. 

Dit is nie nou die tyd om die fopspeen, kombersie of beertjie te probeer wegvat nie. 

Jy kan sy melkbottels verminder en hom selfs oorskuif na beesmelk maar om die bottel in dié tyd weg te neem, sal te veel ontwrigting vir jou kind wees om te kan hanteer.

Wat kan die skool doen om die proses glad te laat verloop? 

Die babajuffrou en die peuterjuffrou sal saam met die ouers gesels en hul redes gee hoekom hulle voel jou kind is nou reg vir die groot skuif. 

Jou kind sal eers vir ‘n paar dae in die peuterklas gaan kuier, ‘n gevoel kry vir die roetine en hy en sy nuwe juffrou sal die geleentheid kry om ‘n verhouding te begin bou. 

Wanneer die ouers, die skool en natuurlik die kind gereed is, sal die skuif voltyds word.

Jou kind is nou gereed vir ‘n nuwe wêreld van leer. 

Hy bevind homself nou ook in ‘n wêreld waar hy smag na onafhanklikheid maar ook nie heeltemal reg is om nie meer so baie onverdeelde aandag te kry nie. 

Een plus een is gelyk aan tantrums. 

Die deel in sy brein wat emosies en impuls reguleer is nog aan aan die beginstadium van ontwikkeling. 

Sy woordeskat is besig om uit brei maar nie glad nie op die punt waar hy sy behoeftes en emosies kan kommunikeer nie. 

Skielik word daar van hom verwag om stil te sit vir kringtyd, saam met maatjies aan ‘n tafel te eet en behoede ons, maar hy moet leer om te deel!

Dit is dus heeltemal normaal en deel van sy ontwikkeling om te stamp of stoot of byt. 

Dit  en om te huil is die enigste maniere waarop hy sy frustrasie kan wys. 

Jou engeltjie is steeds ‘n engeltjie – hy is net nou ‘n engeltjie wat besig is om te ontwikkel en aan te pas. 

Ons gee die kind tot ‘n maand tyd om aan te pas by sy nuwe omgewing – Rome is nie in ‘n dag gebou nie.

Jy as ouer gaan ook moet aanpas by die nuwe klas, juffrou en roetine. 

Dit is belangrik om te onthou dat soos kinders is nie twee juffrouens dieselfde nie en elkeen het haar eie benadering en manier van doen. 

Waar die babajuffrou jou gebombardeer het met kommunikasie, gaan jy nou heelwat minder hiervan kry. 

Die peuterjuffrou bou nou op die grondslag wat die babajuffrou gelê het. 

Haar fokus is om jou kind aan soveel moontlik aktiwiteite bloot te stel en sy dag vol te maak met nuwe leerervarings om seker te maak dat hy optimaal ontwikkel.

Wanneer jy ‘n baie moeë kind by die skool kom haal beteken dit die juffrou het haar werk deeglik gedoen.

Jy kan daarop voorbereid wees dat jou kind vir die eerste ruk in die oggend moeiliker van jou gaan afskeid neem. 

Dit beteken nie hy is ongelukkig in sy nuwe omgewing nie – hy is net nog in die aanpassingsproses.

Jy kan vra hoekom is daar meer maats in die peuterklas as in die babaklas.  Die antwoord is eenvoudig. 

Die kinders is meer onafhanklik en die intensiewe fokus wat nodig is in die babaklas, raak nou oorbodig in die peuterklas.

Jou kind kom by die huis met meer knoppe en skrape en stampe. 

Beteken dit die juffrou kyk nie goed genoeg na jou kind nie?  Inteendeel! 

Dit beteken hy is aktief, hy kry die geleentheid om te ontdek wat sy lyfie alles kan doen.  Hy kry waagmoed, selfvertroue en hy spéél!

Die slotsom is dus dat elke kind in ons skool ‘n individu is. 

Ons ontmoet jou kind op die plek waar hy homself in sy ontwikkeling bevind en ons fokus is en sal altyd wees om jou kind te help om tot sy volle potensiaal te ontwikkel. 

Dít is ons voorreg en ons passie.