Ek was verlede Saterdag by Beeld se Vrouedagfees en die spreker, Nadine Blom, het elke vrou in die gehoor iewers tydens haar praatjie ongemaklik laat voel.
Sy het gepraat oor die emosionele band wat jy met jou kind het. Natuurlik het sy meestal verwys na haar eie situasie met haar tiener en hoe haar gebrek aan ‘n emosionele band hom van haar vervreem het. Dit het selfs daartoe gelei dat hy van die huis af weggeloop het toe hy 16 jaar oud was. Vyf jaar later is sy en haar seun se verhouding eers weer bestendig.
Ek het ongemaklik op my stoel rondgeskuif en onmiddelik begin dink aan my eie emosionele band met my seuns. Om ‘n ouer te wees, veral ‘n ma, is om deurentyd te wonder of jy die regte ding doen. Bied jy genoeg? Spandeer jy genoeg tyd saam met jou kind? Maak jy daagliks seker jou kind se emosionele koppie is vol?
Ons is in die bevoorregte posisie om nog ‘n paar jaar se grasie te hê voor ons kinders die tienerjare betree. Dit beteken ons kan nou al seker maak ons vestig ‘n sterk emosionele band met ons kleuters. Dit is egter nie altyd so maklik nie want ons besige skedules, onbenullige stryde van wille en onrealisitiese verwagtinge plaas stremming op ons verhouding met ons kleuters.
Na die praatjie het ek baie gaan oplees oor hoe om ‘n emosionele band met jou kleuter te vestig. John Bowlby en Mary Ainsworth se attachment theory was interresante and waardevolle leesstof. Ek het nie eens geskroom om die horlosie terug te draai en te gaan opsoek wat Dr Jan van Elfen te sê gehad het nie. Hy was die vorige generasie se oppergesag van kindersorg.
Kinders voel veilig by volwassenes wat ingestel is op hulle behoeftes en gevoelens.
Die wyshede wat ek raakgelees het kan betreklik eenvoudig opgesom word: Kinders voel veilig by volwassenes wat ingestel is op hulle behoeftes en gevoelens. ‘n Ouer wat konsekwent is laat ‘n kind veilig voel. Jou kind moet weet jy luister na hom of haar. Hoe onbenullig dit dalk voorkom, dis belangrik om te kan luister en reageer op, byvoorbeeld, sy teorie van hoe Chase die leier van Paw Patrol geword het. As jy nie eens belangstelling kan toon in sy gunsteling TV-program nie, hoe gaan hy of sy jou kan vertrou om die groter dinge in hulle lewens of emosies te deel?
Wees ‘n veilige hawe vir jou kind, ‘n emosionele konstante. ‘n Sterk emosionele band vereis ‘n ouer wat teenwoordig is. Nie teenwoordig met ‘n foon nie – teenwoordig met oogkontak, aanraking en reaksie.
Is dit te veel gevra in ons besige, gejaagde lewens? Ek dink nie so nie. Ek sien vir baie kans maar ‘n tiener wat die deur in my gesig toeslaan omdat hy of sy meen ek verstaan nie hulle nie, sou een te veel vir my wees. ‘n Tiener wat antwoorde op sy vrae op ‘n foon gaan soek, is ook nie ‘n situasie wat ek wil aanmoedig nie.
My plan van aksie is om Cocomelon en Blaze af te skakel en my verhouding met my kleuter aan te vuur deur meer tyd te gee, meer reaksie te wys en ‘n groter ingesteldheid van verdraagsaamheid vir hulle emosies te toon.

